Makelaars in skema ondersoek

27 Nov

Author: Marelize Barnard

Publications:  Die Burger

Date Publiched: 29 November 2013

KAAPSTAD. – Finansiële raadgewers wat “minstens R100 miljoen” kommissie gemaak het uit beleggers in Herman Pretorius se piramideskema, word ondersoek.Die Finansiële Beplanningsinstituut (FPI) het heelparty klagtes ontvang en doen dissiplinêre ondersoeke na dié makelaars, wat by die instituut geregistreer is.Adv. Jacqui Grovè, hoof van regsdienste van die FPI, het gister gesê die ondersoek gaan voort.

“Ons het al redelik inligting bekom, maar aangesien die tipe oortredings as baie ernstig beskou word, wil ons seker maak ons maak behoorlik werk van die klagtes en ondersoeke,” het Grovè gesê.

Ingevolge die FPI se dissiplinêre regulasies sal die uitslag van verhore oor die makelaars gepubliseer word.

Die FPI kan egter geen inligting bekend maak alvorens die proses afgehandel is nie.

Grovè het gesê die FPI het heelparty klagtes ontvang, maar het die meerderheid van die klaers na die ombudsman verwys, aangesien die FPI se jurisdiksie om klagtes te ondersoek, beperk is tot FPI-lede.

Luidens die jongste verslag van die kuratore van Pretorius se Relative Value Arbitrage Fund (RVAF) is minstens R100 miljoen as kommissie aan makelaars betaal.

Die kurators, Rynette Pieters en Bessie Bester, het in hul verslag gesê verskeie mense is reeds gedagvaar vir ondervraging.

Die kurators volg inligting oor die mense en instansies op waarheen beleggers se geld “gevloei” het en elke transaksie word ondersoek in ’n poging om geld vir die beleggers te herwin.

Een van die kurators se eerste doelwitte is om geld wat in oorsese rekeninge is, na Suid-Afrika terug te bring. Bankstate word ook nagegaan om die geld wat uit dié oorsese rekeninge uitbetaal is, na te spoor.

Pieters het gesê sover die kurators weet, “word al die geld by finansiële instellings in Engeland bewaar”.

Daar word ook ’n prokureur in Switserland aangestel wat sal probeer om die state van bankrekenings in dié land te bekom.

Die kurators het in Oktober by die Wes-Kaapse hooggeregshof aansoek gedoen om die sperdatum vir ’n eerste likwidasierekening uit te stel. Dié rekening moes op 30 Oktober gelewer word.

Pretorius het nie behoorlik boekgehou van die RVAF en ander beleggingsrekeninge se transaksies nie. Dit blyk dat Pretorius bloot die een beleggingsentiteit gesluit en dan ’n volgende begin het.

Hy het geld van die een na die ander oorgeplaas en dan voortgegaan om nuwe beleggers te lok.

Lees Artikel in Die Burger

Leave a Reply/Los Kommentaar

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: