‘Kommissie’ teruggeëis

11 Dec

Author: Marelize Barnard

Publications:  Die Burger

Date Publiched: 11 December 2013

            Net R469 000 was ‘egte wins’

             KAAPSTAD. – Herman Pretorius het R1 miljoen aan ’n makelaar geleen met slegs ’n handdruk om dié transaksie te beklink.
Boonop het Pretorius later R250 000 van dié R1 miljoen-lening aan die makelaar, Michal Calitz, gegee – ’n geskenk wat hy met nog ’n handdruk as afgehandel beskou het.En volgens ’n transkripsie van getuienis wat in ’n sekwestrasie-ondervraging deur Calitz gelewer is, het Pretorius gesê: “Ek sê vir jou ek het soveel geld gemaak . . . ek betaal vir jou ’n miljoen rand oor . . . dan kan jy dit weer vergoed vir my later (sic).”Dié inligting is vervat in ’n beëdigde verklaring van Lambertus von Wielligh Bester, een van die kurators van Pretorius se Rela­tive Value Arbitrage Fund.

Bester se verklaring is deel van ’n aansoek wat gister in die Wes-Kaapse hooggeregshof teen Calitz ingedien is om miljoene rande “kommissie” wat Pretorius aan hom betaal het, te verhaal.

Luidens die transkripsie van Calitz se ondervraging deur die kurators het hy Pretorius só beskryf: “Herman was een van daai mense . . . en agterna kom ons dit agter . . . wat hand geskud het en niks was op papier nie . . .”

Bester het in sy verklaring aangevoer dat Pretorius se Ponzi-skema ongetwyfeld een van die grootste skelmstreke van sy soort tot nog toe in Suid-Afrika was.

Die ondersoeke wat tot nou deur die kurators en ouditeurs gedoen is, het gewys dat die meeste van die beleggers boere of plattelandse inwoners is.

Bester het gesê Calitz se regsverteenwoordiger het bevestig dat beleggers verskeie klagtes teen Calitz en Impact Finansiële Konsultante by die Ombudsman van Finansiële Diensverskaffers ingedien het. Die Finansiële Diensteraad ondersoek ook Calitz en ander makelaars.

Bester voer aan dat Pretorius, ten einde te verseker dat makelaars “geesdriftig” bly en daar ’n gereelde kapitaalstroom van beleggers inkom, “kommissies of winsdeling” van tussen 5% en 7,5% van die beleggingsbedrae aan hulle betaal het. Makelaars het hul wins ontvang die oomblik wat beleggers se geld inbetaal is.

Ekstra “administratiewe fooie” is ook aan makelaars betaal.

Terwyl beleggers meer as R2,2 miljard aan Pretorius toevertrou en hy deurentyd “opbrengste” van tussen 14% en 25% per jaar op die beleggings verseker het, het die hele beleggingskema oor al die jare nie meer as R469 000 egte wins gemaak nie.

Daar word nou van Calitz en Impact Finansiële Konsultante (’n beslote korporasie waarin Calitz ’n 80%-aandeel het) verskeie bedrae aan “kommissiegelde” teruggeëis. Dit wissel van R489 000 tot R2,45 miljoen en R3,6 miljoen.

Die aansoek is tot 6 Mei uitgestel.

Lees Artikel in Die Burger

Leave a Reply/Los Kommentaar

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: