Weduwee veg môre om weeldehuis te hou

17 Jan

Author: Marelize Barnard

Publications:  Die Burger

Date Publiched: 17 Januarie 2014

 KAAPSTAD. – Die weduwee van die piramide-beleggingsmous Herman Pretorius klou verbete aan haar weelderige eiendom in Welgemoed, Bellville, vas.

Susan-Ann Pretorius, wat op 21 Oktober verlede jaar finaal in die Wes-Kaapse hooggeregshof gesekwestreer is, betwis nou dié hofbevel.

In ’n ongewone stap ingevolge die toegewysde datums vir aansoeke en verhore in die Wes-Kaapse hooggeregshof sal Susan-Ann môre – op ’n Saterdag – die geleentheid kry om haar saak te stel. Dit is ’n datum waarop al die regslui beskikbaar sal wees.

Sy het ’n aansoek om verlof tot appèl ingedien teen die uitspraak van waarnemende regter Wilhelm van Staden wat die finale sekwestrasiebevel toegestaan het.

Susan-Ann se spoghuis in Welgemoed – met al die deftige ontwerpersmeubels daarin – kan intussen nie opgeveil of verkoop word nie, hoewel Van Staden in Oktober die finale sekwestrasiebevel toegestaan het.

Susan-Ann gaan, luidens haar kennisgewing vir die aansoek om verlof tot appèl, aanvoer dat Van Staden die verkeerde besluit geneem het deur te bevind dat sy insolvent is.

Sy meen die regter het verkeerdelik bevind dat sy nié die begunstigde is van ’n lewenspolis van R8 miljoen wat in Herman Pretorius se naam uitgeneem was nie. Volgens Susan-Ann sal sy ’n “surplus” van bates hê indien dié geld bygereken word, wat dus beteken dat sy nie insolvent is nie.

Die aansoek om Susan-Ann te sekwestreer, is verlede jaar deur die trustees van Pretorius se Relative Value Arbitrage Fund (RVAF) en Seca Trust ingedien. Die trustees het aangevoer dat sy gebaat het by meer as R17 miljoen se betalings uit die rekenings van dié trusts.

Susan-Ann was te alle tye die geregistreerde eienaar van die eiendom in Van de Graaffstraat in Welgemoed. Vir dié eiendom is daar binne twee jaar R13,3 miljoen aan bouers en binneversierders betaal.

’n Lys van altesaam 115 aankope vir die binneversiering van die huis in Welgemoed is vantevore as deel van die aansoek om sekwestrasie by die hooggeregshof ingedien.

Dit sluit in ’n sitkamerbank van R59 353, nóg een van R33 375 en ’n koffietafel van R17 800 vir een van die sitkamers van haar drieverdiepinghuis.

Nog ’n sitkamerbank vir die Pretorius-gesin se gesinskamer het R48 600 gekos. Twee eetkamertafels, een van R35 283 (vir ’n eetkamer) en ’n ander van R45 157 (vir ’n braaikamer), is ook op die lys van aankope.

Die trustees van Pretorius se RVAF en Seca Trust het in hul aansoek om sekwestrasie van Susan-Ann suksesvol aangevoer dat sy geen gronde gehad het om te beweer dat haar oorlede man se beleggingskema wettig was nie. Dus is sy nie geregtig op die geld wat sy van Pretorius gekry het nie.

Van die duurste artikels in dié huis in Welgemoed:

Sitkamerbank: R59 353

Koffietafel: R17 800

Eetkamertafel: R45 15 7

Lees Artikel in Die Burger

Leave a Reply/Los Kommentaar