Belegger sterf aan hartaanval

2 May

Author: Marelize Barnard

Publications: Die Burger

Date Published : 02 Mei 2014

KAAPSTAD. – ’n Sewentigjarige belegger wat met wyle Herman Pretorius se bedrogspul al sy spaargeld vir mediese uitgawes verloor het, is oorlede kort voor hy vrae oor sy beleggings moes beantwoord.

Die likwidateurs van Preto­rius se Relative Value Arbi­trage Fund (RVAF) Trust en die Seca Trust is tans ingevolge regulasies van die Insolvensiewet met geheime ondervragings van beleggers besig.

Die seun van die man wat verlede week aan ’n hartaanval gesterf het, het vertel hoe sy pa die afgelope twee jaar gely het onder die wete dat al die geld wat hy vir hom en sy vrou se mediese onkostes op hul oudag gespaar het nou verlore is.

“Pretorius het soveel mense se lewe verwoes. Herman het alles wat my pa gehad het, gevat,” het die seun gister gesê. Die seun het gevra dat nóg sy naam nóg dié van sy pa gepubliseer word.

Die seun moes verlede week inderhaas van Pretoria na Kaapstad vlieg ná sy pa se hartaanval.

“Hierdie ou (Pretorius) het net soveel lewens verwoes. Die stres wat my pa die afgelope twee jaar gehad het, was geweldig. Dit het die hele tyd in sy kop gemaal dat hy dinge weer moet probeer regkry.”

Die oorledene se een groot vrees was dat daar op sy oudag nie genoeg geld sou wees vir die mediese onkostes van hom en sy vrou nie.

“My pa het 20 jaar lank dieselfde kar gery. Hy het geld by Pretorius belê om te spaar vir sy oudag. Hy was nie gierig nie.

“En só is daar mense in Riversdal en Riebeek-Kasteel . . . Dit is mense wie se hele lewe – soos my pa s’n – die afgelope twee jaar oorheers is deur stres. Dit is stres waarmee jy gaan slaap en opstaan. Dit gaan deur jou kop as jy eet of gaan stap.”

Pretorius, wat R2,2 miljard van beleggers ingevorder het in ’n piramideskema, het op 26 Julie 2012 ’n voormalige sakevennoot, Julian Williams, in die middestad van Kaapstad doodgeskiet en daarna selfmoord gepleeg.

In ’n kennisgewing aan beleggers waarin die redes vir die likwidateurs se insolvensie-ondersoek uiteengesit word, word genoem dat die Insolvensiewet daarvoor voorsiening maak dat enige persoon ondervra kan word wat moontlike inligting of dokumentasie het met betrekking tot die insolvente boedel wat ondersoek word.

Pretorius het, volgens die kennisgewing, nie behoorlik boekgehou nie en die likwidateurs beskou die geheime ondervraging van getuies as noodsaaklik om inligting te bekom

Lees Artikel in Die Burger

Leave a Reply/Los Kommentaar

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: