Pretorius-weduwee se spoghuis gou opgeveil

15 Jul

Author: Marelize Barnard

Publications: Die Burger

Date Published : 15 Julie 2014

KAAPSTAD. – Susan-Ann Pretorius, weduwee van die swendelaar Herman Pretorius, se ontwerpershuis met sewe slaapkamers, ’n wynkelder, gimnasium, sauna, private bioskoop en “marmer net waar ’n mens kyk” gaan in Augustus opgeveil word.

Dié miljoenêrshuis in Welgemoed en sy “internasionaal ontwerpte inhoud” is met Pretorius se swendelaarsinkomste gebou en ingerig. Beleggers het R2,2 miljard by Pretorius belê.

Nadat Susan-Ann in die Wes-Kaapse hooggeregshof gesekwestreer is, het die trustees van Pretorius se Relative Value Arbi­trage Fund (RVAF) en Seca Trust die afslaers ClareMart gekry om die huis op te veil.

Altesaam 11 bedrae wat aan Bos & Punt-bouers vir bouwerk aan die eiendom betaal is, wissel van R34 200 tot R1,6 miljoen elk. Altesaam R13,3 miljoen is binne twee jaar aan bouers en binneversierders betaal.

Susan-Ann was te alle tye die geregistreerde eienaar van die ­eiendom in Van de Graaffstraat in Welgemoed.

Die weelde word gewys in foto’s waarmee die veiling geadverteer word. Die veiling is op 15 Augustus op die perseel. Die eiendom en inhoud word as ’n eenheid opgeveil.

Jonathan Smiedt, uitvoerende hoof van ClareMart, het gister gesê die huis is eksklusief ontwerp en is “dié huis om in te woon” in die noordelike voorstede.

“Dit is nie jou alledaagse huis nie. Elke hoek en muur is met ’n spesifieke doel ontwerp en afgewerk.

“Die mure is afgewerk deur Marmoran, ’n onderneming wat bekend is vir sy dekoratiewe muurafwerking. Die geoutomatiseerde stelsel sluit in ’n verkoelde wynkelder, en daar is pragtige groot marmerteëls.”

Wanneer Smiedt die huis beskryf, gebruik hy die woorde “duur . . . duur . . . duur” in elke sin.

Die private bioskoop het ’n reuseskerm en sitplek vir sowat 50 mense. Langsaan is die geoutomatiseerde wynkelder.

Dan is daar nog die marmerstoep reg rondom die huis, die ontwerperstuin en die uitsig.

’n Lys van altesaam 115 aankope vir die binneversiering van die huis is vantevore as deel van die aansoek om Susan-Ann se sekwestrasie by die hooggeregshof ingedien.

Dit sluit in ’n sitkamerbank van R59 353, nóg een van R33 375 en ’n koffietafel van R17 800 vir een van die sitkamers.

Nog ’n sitkamerbank vir die Pretorius-gesin se gesinskamer het R48 600 gekos. Twee tafels, een van R35 283 (vir ’n eetkamer) en ’n ander van R45 157 (vir ’n braaikamer), is ook op die lys van aankope.

Met Susan-Ann se sekwestrasie is gelas dat sy al die meubels in die huis moes agterlaat en slegs basiese huisware, soos haar bed en ’n yskas, verwyder.

Die eiendom en inhoud kan op 3 en 10 Augustus deur voornemende kopers besigtig word.

Leave a Reply/Los Kommentaar

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: