Beleggers bekyk Pretorius se huis

4 Aug

Author: Marelize Barnard

Publications: Die Burger

Date Published : 04 August 2014

Foto: liza van heerden

KAAPSTAD. – Die swembad is nou groen en die gras is lank, maar die miljoenêrshuis se motorhuis het steeds die marmer­teëls waarop wyle Herman Pretorius sy Aston Martin kon trek.

Die ontwerpershuis van Susan-Ann Pretorius in Welgemoed, wat met die geld gebou is van beleggers wat R2,2 miljard by Pretorius belê het, is gister vir die publiek oopgestel. Die huis word op 15 Augustus deur ClareMart opgeveil nadat Susan-Ann gesekwestreer is.

’n Egpaar wat R1,7 miljoen by Pretorius belê het, was van die mense wat na dié moderne huis kom kyk het.

“Dit is maar deel van ’n mens se manier om dinge te verwerk. Dit is regtig ’n hartseersaak en tragies dat jy mense met jou hele lewe vertrou en dan gebeur dít,” het een vrou gesê terwyl sy voor die groot elektroniese hekke gewag het vir die afslaers om ’n volgende groep mense in die huis toe te laat.

“ ’n Mens belê vir jou oudag, en dan is daar boggerol.”

Mense kon tussen 14:00 en 17:00 die miljoenêrshuis besigtig. Sommige mense agter in die ry het omgedraai toe die wind snerpend geraak het.

Die huis het drie vlakke met ’n uitsig oor Welgemoed. Selfs uit die bad in die hoofslaapkamer is daar ’n uitsig op die Bolandse berge.

In die gimnasium is daar verskeie hoogs elektroniese oefenmasjiene en die een muur is net spieëls. Daar is ’n platskerm-televisie teen ’n ander muur.

Die fliekkamer het losstaande leermeubels. Hier het daar gister ’n DVD van Tiger Woods gelê. In een van die twee motorhuise is verskeie gholfstelle. Vier stelle word saam met die huis en inhoud opgeveil.

Van die huisware wat Susan-Ann opgeëis het en nie op die veiling is nie, sluit in ’n marmerlessenaar, ’n driestuk-sitkamerstel, ’n 46-duim-platskermtelevisiestel, 12 eetkamerstoele, ’n cappuccino-maker, ’n dubbeldeur-yskas, ’n koningingrootte bed, wasmasjien en tuimeldroër in.

Die huis is ook volgende Sondag tussen 14:00 en 17:00 op skou voor dit later vandeesmaand opgeveil word.

 

Leave a Reply/Los Kommentaar

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: