Makelaar moet vyf se R2,4 m. teruggee

11 Aug

MARELIZE BARNARD
Die Burger
10 Augustus 2014

KAAPSTAD. – “Daar is geen risiko nie. Ek het van my eie geld ook daar belê.”

Michal Calitz, eienaar van Impact Financial Consultants, het volgens ’n belegger in wyle Herman Pretorius se piramideskema haar met dié woorde oortuig om haar aftreegeld by Pretorius te belê.

Die belegger, Martha Jooste, is een van vyf beleggers wat suksesvolle eise by die ombudsman vir finansiële adviseurs en tussengangers (Fais) ingedien het om Calitz te dwing om hul beleggings terug te betaal.

Calitz moet R2,4 miljoen en rente aan dié vyf terugbetaal.

R165 000: Die ombudsman, Noluntu Bam, het in haar uitspraak in Jooste se aansoek uitgewys dat Jooste ’n klerk was met ’n halfdagwerk. Sy het al haar geld (R165 000) in Oktober 2004 in Pretorius se Rela­tive Value Arbitrage Fund (RVAF) belê vir haar aftrede. Volgens Jooste is sy nooit raad gegee oor die RVAF as verskansingsfonds nie. Calitz het haar glo wel gerusgestel dat daar geen risiko was nie en dat hy van sy eie geld daarin belê het.
R460 000: In nog ’n aansoek is Calitz gelas om R460 000 plus rente aan Johannes Hartshorne te betaal. Hartshorne se vrou het by Calitz navraag gedoen oor die RVAF en Pretorius, waarop Calitz haar verseker het dat Pretorius ’n man van integriteit was. Maar in die twee weke voor Julie 2012 toe Pretorius eers ’n oudkollega en daarna homself doodgeskiet het, het Calitz vir Hartshorne gebel en gesê hy is ongemaklik met die situasie by die RVAF. Calitz het in daardie stadium sy kliënte gewaarsku om eerder hul beleggings te onttrek, of Pretorius te gaan spreek. Dit was te laat.
R600 000: Bam het gelas dat Calitz aan Robert Whitfield-Jones R600 000 met rente moet betaal vir twee beleggings – van onderskeidelik R350 000 en R250 000 – wat op sy aanbeveling in die RVAF gemaak is.
R500 000: Calitz moet ook R500 000 plus rente van 15,5% per jaar aan Craig Inch terugbetaal. Inch het jare lank pensioengeld bymekaar gemaak en dit op Calitz se aanbeveling in die RVAF belê.
R700 000: Calitz moet ook R700 000 aan Garvitte Lombard terugbetaal.

Beleggers het op advies van Calitz meer as R86 miljoen in Pretorius se skema belê.

Leave a Reply/Los Kommentaar

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: