Archive | 07:16

Makelaar moet sy Pretorius-miljoene terugbetaal

15 Aug

Author: Marelize Barnard

Publications: Die Burger

Date Published : 14 August 2014

KAAPSTAD. – Die makelaar Michal Calitz, wat beleggers gelok het om meer as R86 miljoen by die swendelaar Herman Pretorius te belê, moet miljoene rande aan kommissiegeld en ‘n “kontantgeskenk” terugbetaal.

Regter Monde Samela het in die Wes-Kaapse hooggeregshof uitspraak gelewer in ‘n aansoek deur die kurators van Pretorius se gesekwestreerde Relative Value Arbitrage Fund (RVAF) en sy Seca-trust.

Die kurators het ‘n aansoek by die hooggeregshof ingedien dat Calitz R6,54 miljoen aan die RVAF en nagenoeg R380 000 aan die Seca-trust moet terugbetaal.

Verder is geëis dat Impact Finansiële Konsultante (’n beslote korporasie waarin Calitz ’n 80%-aandeel het) ook sowat R2,1 miljoen aan die twee trusts moet terugbetaal.

In die beëdigde verklaring van Lambertus von Wielligh Bester, een van die kurators, en hofdokumente wat in die aansoek ingedien is, word genoem dat Calitz tussen 28 Februarie 2005 en 31 Mei 2012 meer as R6 miljoen in betalings ontvang het uit die RVAF as wins of kommissie omdat hy beleggers na Pretorius verwys het.

Van die Seca-trust het hy R377 155 ontvang.

Pretorius het ook net minder as R1 miljoen aan Calitz geleen. Van dié geld is R750 000 aan Pretorius terugbetaal deur Calitz se kommissiegeld van die lening af te trek. Pretorius het die res, R250 000, as ‘n geskenk aan Calitz gegee en hy het dit aanvaar.

Die kurators het aangevoer die betalings was deel van ‘n onwettige beleggingskema, of Ponzi-skema.

Calitz het op sy beurt aangevoer dit is geld wat hy vir dienste wat gelewer is, betaal is en waarop hy belasting betaal het.

Samela het gelas Calitz moet die geld – met rente bygereken – terugbetaal.

Pretorius-makelaar moet opdok, beveel hof

15 Aug

Author: Marelize Barnard

Publications: Die Burger

Date Published : 15 August 2014

KAAPSTAD. – Dit is onaanvaarbaar dat finansiële raadgewers toegelaat word om regulasies te oortree in ruil vir kommissie.

Dít was gister die bevinding van regter Monde Samela in die Wes-Kaapse hooggeregshof toe hy gelas het dat die makelaar Michal Calitz miljoene rande se kommissie en ’n geskenk moet terugbetaal wat hy by Herman Pretorius gekry het.

Samela het uitspraak gelewer in ’n aansoek deur die kurators van Pretorius se gesekwestreerde Relative Value Arbitrage Fund (RVAF) en sy Seca-trust. Hy het gelas dat Calitz, sy beslote korporasie Impact Finansiële Konsultante, en die maatskappy EQ Prop R9,06 miljoen moet terugbetaal. Dit sluit in kommissies, ’n lening deur Pretorius en ’n geskenk van R250 000 wat Calitz aan die twee gesekwestreerde trusts van Pretorius moet terugbetaal.

In die beëdigde verklaring van Lambertus von Wielligh Bester, een van die kurators, asook hofdokumente wat in die aansoek ingedien is, word aangevoer dat Calitz tussen 28 Februarie 2005 en 31 Mei 2012 meer as R6 miljoen uit die RVAF ontvang het as wins of kommissie omdat hy beleggers na Pretorius verwys het.

Van die Seca-trust het hy R377 155 ontvang.

Pretorius het ook net minder as R1 miljoen aan Calitz geleen. Van dié geld is R750 000 aan Pretorius terugbetaal deur Calitz se kommissie van die lening af te trek. Pretorius het die res, R250 000, aan Calitz geskenk en hy het dit aanvaar.

Samela het verder gelas dat rente op dié bedrae ook deur Calitz betaal moet word. Die kurators het aangevoer dat die betalings deel van ’n onwettige beleggingskema, of Ponzi-skema, was.

Calitz het op sy beurt aangevoer dat dit geld was wat hy betaal is vir dienste wat gelewer is en waarop hy belasting betaal het.

Samela het in sy uitspraak gesê daar is nie behoorlike finansiële state gehou vir die RVAF en Seca Trusts nie. Die trusts is ook nie geregistreer as finansiële instellings, ’n bank of onderneming wat finan­siële dienste lewer nie.