Al wat oor is in die luukse Pretorius-woning

17 Aug

Author: ANIKA MARAIS

Publications: Beeld

Date Published : 16 August 2014

KAAPSTAD. – Susan-Ann Pretorius is haar huis gister binne net drie minute kwyt.

Pretorius, weduwee van die swendelaar Herman Pretorius, se luukse huis in Welgemoed, Bellville, is gistermiddag deur ClareMart opgeveil.

Die hamer het ná net drie minute op R12,8 miljoen (kommissie ingesluit) geval nadat ’n plaaslike bieër die huis namens ’n oorsese koper gekoop het. Die koper en die bieër wou anoniem bly.

Die huis – met onder meer sewe slaapkamers, ’n gimnasium, ’n rolprentteater, ’n sauna en ’n wynkelder – is teen ’n “goeie prys” verkoop, het die afslaer, Jonathan Smiedt, hoof van ClareMart, gesê.

“Ons navorsing toon dat daar tussen R15 miljoen en R20 miljoen aan die huis bestee is. En dit was agt jaar gelede, onthou. As dié huis in die Atlantiese kusgebied gestaan het, sou ons dit vandag vir R25 miljoen tot R30 miljoen verkoop het.

“Vir die woonbuurt waarin die huis geleë is, is dit egter ’n goeie prys. Nie ’n winskopie nie, maar ’n goeie prys.”

Ongeveer 30 mense het gister as moontlike kopers by die veiling geregistreer, maar net vier het uiteindelik gebie.

Die huis was voor die veiling oop vir besoekers om deur te stap.

Sandra Simpson, ’n belegger wat geld in Pretorius se piramideskema verloor het, het die veiling bygewoon.

Ek het hard vir die geld gewerk wat ek by hom belê het. En ons het hom almal vertrou. Hy was vriendelik en vreeslik met sy Bybel onder die arm.
Sandra Simpson, ’n belegger wat geld in Herman Pretorius se piramideskema verloor het.
​“Dit is walglik om te sien hoe skaamteloos en sonder enige skuldgevoel ons geld gesteel en op dié huis uitgegee is. Ek was ses maande depressief nadat ek my geld verloor het.

“Ek het hard vir die geld gewerk wat ek by hom belê het. En ons het hom almal vertrou. Hy was vriendelik en vreeslik met sy Bybel onder die arm,” het sy vertel.

Twee vroue wat naby aan die drieverdiepinghuis in De Graaffstraat 26 woon, het ook na die huis kom kyk.

“Ja, die huis het ’n mooi uitsig, maar dis darem baie koud. Dit lyk nie gemaklik om hier te woon nie,” het die een vrou gesê.

“Die huis pas glad nie in die omgewing nie. Dit staan lelik uit. Die dag toe hulle die huis begin bou het, het ek aan my tuinman gesê: ‘Wat gaan hier aan? Bou hulle nou ’n 7-Eleven hier oorkant?’ ” het die ander vrou vertel.

Die huis het gister net enkele artikels gehad wat daarop dui dat Susan-Ann Pretorius tot onlangs nog in die huis gewoon het. Sy moes aan die begin van die maand uittrek en kon net ’n bed en ’n yskas saamneem.

In die studeerkamer het ’n pienk leesbril, wat oor die toonbank gekoop kan word, voor die rekenaar gelê. In die snippermasjien langs die lessenaar het versnipperde papiere, wat soos bankstate lyk, uitgepeul.

In die gimnasium het haar handgeskrewe oefenprogram en oefenhanddoek agtergebly. Sy het ook ses botteltjies bloekomolie in die sauna vergeet.

Die verkoop van die huis sal vroeg volgende week deur die trustees bevestig word.

Leave a Reply/Los Kommentaar

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: