Weduwee sal haar ring gee

17 Aug

Author: Marelize Barnard

Publications: Weduwee sal haar ring gee …nadat sy gesê het dit is weg

Date Published : 16 August 2014

Susan-Ann Pretorius gister buite die Bellville-landdroshof waar sy vrae beantwoord het in ’n sekwestrasie-ondervraging. Sy het in die ondervraging ingestem om ’n ring van R400 000 aan die likwidateurs te oorhandig nadat sy eers aangevoer het dat dit ’n paar jaar gelede weggeraak het. Foto: Lulama Zenzile
KAAPSTAD. – “Ek het nie die ring nie . . . Dit was nie die ring nie.”

En toe Susan-Ann Pretorius hoor sy kan tronk toe gaan vir meineed: “Ja, ek het die ring. Ek sal dit vir jou bring. Dit sal nie vir my enige geluk bied nie.”

Gister was ’n moeilike dag vir Pretorius, weduwee van die swendelaar Herman Pretorius.

Terwyl sy in ’n sekwestrasie-aansoek in die Bellville-landdroshof met vrae gepeper is oor juwele van honderdduisende rande wat ná Pretorius se dood soek geraak het, is haar spoghuis ’n paar kilometer verder in Welgemoed, Bellville, opgeveil.

Sy het in die ondervraging deur adv. Almero de Villiers (vir die kurators) eers volgehou dat haar troupand – met ’n diamant van 3,2 karaat en ’n waarde van R400 000 – ’n paar jaar gelede by die gesin se vakansiehuis in Voëlklip, Hermanus, weggeraak het.

De Villiers het gevra watter ring sy op haar man se begrafnis gedra het, waarop sy geantwoord het dat dit ’n namaaksel was.

De Villiers het dit weer gestel dat Pretorius die geleentheid het om te antwoord of sy steeds in besit van die ring van R400 000 is.

Hy het genoem dat ’n persoonlike assistent van Preto­rius reeds getuig het dat sy (Pretorius) die ring op haar man se begrafnis gedra het.

Sy het weer geantwoord sy het nie die ring nie. Die ring wat sy op die begrafnis gedra het, was ’n namaaksel.

De Villiers het hierna aangevoer dat juweliers ingeroep sal word om te sê of dit die ring aan haar vinger is wat op begrafnisfoto’s gesien kan word. As dit dieselfde ring is, sal sy in hegtenis geneem en tronk toe kan gaan weens meineed.

Hierna het Pretorius bevestig dat sy steeds die ring het en dit sal oorhandig.

Gister se sekwestrasie-ondervraging het bly draai om duur juwele en waar dit tans kan wees.

Pretorius het bevestig dat sy ’n armband ter waarde van R105 000 by haar man gekry het vir haar verjaardag. Sy het ook ’n Tag Heuer-horlosie wat sy aan die likwidateurs sal oorhandig.

Ek het nie die ring nie . . . Dit was nie die ring nie.
Susan-Ann Pretorius
​Sy het egter ontken dat sy enigiets weet van ’n diamant van 1,7 karaat wat R98 800 werd is, ’n Cartier-horlosie van R168 000 en ’n “goedkoperige” Rolex-horlosie van R36 400.

Sy het gister ook twee waardevolle handsakke, ’n Tod’s en ’n Louis Vuitton, saam met haar na die ondervraging gebring om aan die likwidateurs te oorhandig.

Die ondervraging is tot 10 Oktober uitgestel.

Pretorius se regsverteenwoordiger is Etienne Naude. De Villiers is bygestaan deur Pierre du Toit van Mostert en Bosman.

Leave a Reply/Los Kommentaar

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: