Miljarde soos Warren Buffett

22 Aug

Author: Gert Coetzee

Publications: Volksblad

Date Published : 16 August 2014

DRIE klein varkies het vir hulle huisies gebou. Die eerste een oorhaastig met strooi en flentermateriaal, en die tweede effe langsamer met stokke en plank. Nommer drie het eers vasgebyt in minder gerieflike toestande om duursame materiaal vir sy blyplek te vergader en toe ’n stewige woning gebou.

En toe die groot, slegte wolf – in die gedaante van inflasie – kom . . . Een van die puik finansiële fondsbestuurders op Volksblad en Jenwil se welvaartseminaar – in die Naval Hill-planetarium, ’n grootliks onontdekte Bloemfonteinse juweel – het dié storie ter illustrasie van die realiteite van beleggingsgroei vertel.

Kortom, ontbeer eers bietjie luukshede om ’n deeglike grondslag vir die aanvangsgroei van jou neseier te lê. Hoe langer die tydperk van jou belegging, hoe beter gaan jou vesting finansiële storms kan weerstaan. En ’n kleiner bedrag wat oor 30 jaar belê word, lewer dieselfde opbrengste as ’n veel groter belegging oor 20 jaar.

Met die treurmares van African Bank (Abil) se inploffing en baie hoopvolle beleggers se pynlike verlies van aftreegeld in die swendelryk van die afgestorwe “sakeman” Herman Pretorius vars in die geheue, moes meer mense eintlik die welvaartseminaar bygewoon het.

Dit is jammer beleggers het weens geldmarkfondse se Abil-blootstelling ’n verlies gely, juis omdat geldmarkfondse veronderstel is om veilig te wees. Eintlik is dit diegene wat vinnige, maklike kitsopbrengste najaag wat gewoonlik hul vingers verbrand. Iets wat te goed klink om waar te wees, ís te goed om waar te wees, soos Rothea van Biljon van Jenwil op die seminaar gesê het.

Dink aan daardie jong tannie op die TV wat danksy ’n “gewaarborgde” opbrengs van 18% op 54 ’n lady of leisure kan wees.

Van die fondsbestuurders – van Sanlam Beleggingsbestuur, Glacier van Sanlam, Prudential, Allan Gray, Coronation en Sanlam Privaat Welvaart – op die seminaar is legendes in die bedryf. Hul fondse klop inflasie en die Johannesburgse aandelebeurs se algemene indeks deurentyd.

Dit wil gedoen wees met ander wolwe soos stagflasie, wisselvalligheid, waardevermindering en negatiewe wêreldtoestande wat dreig.

Met mense wat vandag 80, 90 en selfs 100 jaar oud word, en langer afgetree is as wat hulle gewerk het, is die groot uitdaging om hul geld so te belê dat ná hul maandelikse gebruik én inflasie dit nie in waarde krimp nie, maar op hul oudag minstens dieselfde geldwaarde sal hê.

Die fondsbestuurders se deeglik geïllustreerde voorleggings bevestig aandele bly die beste langtermyn-beleggings. Mits beleggers waagmoed het om nie hul geld te onttrek as die mark wipplank ry nie. Op kort termyn bring dit hoër risiko mee, en is diversifikasie – in effektetrusts, staatseffekte, eiendom, buitelandse fondse en, ja, die geldmark – raadsaam vir verskansing.

Die aandele-indeks trek by meer as 51 000 punte. Gaan dit oor ’n jaar op 60 000 staan of dalk tuimel tot by 18 000 waar dit in 2008 gaan draai het? Of deur die bodem val soos in 1929 se berugte Swart Dinsdag of 1988 se Swart Maandag? Ons weet nie. Beleggingskundigheid berus nie op die luukse van nabetragting nie.

’n Leek kan met ’n gelukkige geldskuif van een risiko-klas na ’n ander die mark dalk een keer klop, maar nie twee keer nie. Beleggings is nie ’n dobbelspel nie.

Vir dié geldleek klink basics en dissipline na die wenresep, soos in die lewe, ook vir beleggings.

En kry vir jou ’n kundige, betroubare adviseur wat nes jy oor jou swaarverdiende geldjies voel.

Laastens, of dalk eerstens, moet ’n mens jouself seker afvra wat welvaart is en wat jy daarmee – vir jou en andere – sou wou bereik.

Soos Warren Buffett wat net met die kleinste moontlike geldstukkie van ’n telefoonhokkie sou bel, maar later miljarde dollars aan Bill en Melinda Gates se stigting geskenk het.

Leave a Reply/Los Kommentaar

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: