Swaer getuig oor weelde voor dood

11 Oct

Author: Marelize Barnard

Publications: Die Burger

Date Published : 11 Oktober 2014

Van die Hardekraaltjie-woonwapark in Voortrekkerweg, Bellville, tot ’n multi-miljoenrand-huis in Welgemoed – dít is die pad wat die swendelaar Herman Pretorius geloop het.

Pretorius kon nie altyd ’n Aston Martin, luukse vakansiehuis in Voëlklip, Hermanus, en juwele van honderdduisende rande vir sy vrou, Susan-Ann, bekostig nie.

Daar was ’n tyd nadat sy sake in George “verkrummel” het toe die Hardekraaltjie-woonwapark al uitweg was.

Dít was gister van die getuienis van wyle Pretorius se swaer, Srecko Antun Bilobrk, ’n Kroasiër wat hom jare gelede in Suid-Afrika gevestig het en met Susan-Ann se suster, Carol-Ann, getroud is.

Bilobrk, ’n elektriese ingenieur, het in die Bellville- siviele hof in die sekwestrasie-ondervraging oor Susan-Ann se geldsake getuig.

Bilobrk was die laaste familielid met wie Pretorius gaan gesels het voor hy op 26 Julie 2012 eers sy voormalige sakevennoot Julian Williams en daarna homself in die Icon-gebou in die Kaapstadse sakekom doodgeskiet het.

Pretorius het op die dag van die skietery van sy kantoorkompleks in die Tyger-waterfront in Bell­ville gery en onverwags by sy swaer se huis in Kampsbaai opgedaag. Pretorius het gesê hy is in die stad om Williams te kom sien.

“Hy het gesê hy het R100 miljoen aan Williams geleen om die geld van die mense in sy tuisdorp (Piketberg) te betaal. En dat die hele dorp gaan ontplof omdat die geld nie betaal is nie,” het Bilobrk getuig.

“Hy het gesê hy het ’n halfuur. Hy het koffie gedrink en was gespanne. Die mense in sy tuisdorp is nie betaal nie . . . En toe hoor ons die nuus ’n paar uur later,” het Bilobrk getuig oor Pretorius se laaste oomblikke.

Adv. Almero de Villiers, wat namens die kurators van Preto­rius en Susan-Ann se trusts optree, wou by Bilobrk weet wanneer Pretorius hom gevra het om na sy (Pretorius) se gesin om te sien.

Bilobrk het geantwoord nadat Pretorius teruggekom het van ’n vakansie in Turkye het hy “vir die eerste keer in sy lewe gesê hy voel bedreig.

Pretorius het gesê Julian (Wil­liams) is bipolêr en daartoe in staat om enigiets te doen. Hy het gesê hy voel bedreig en dat hy nou met ’n ander motor ry.

Bilobrk het hierna getuig dat Pretorius hom gevra het om na sy gesin om te sien. “Ek het gedink hy maak ’n grap.”

De Villiers het hierop aangevoer dat Pretorius se seun Andrew gesê het Pretorius het ’n sak geld vir Bilobrk gegee, waarop Bilobrk dit ontken het. “Ons het nooit enige geldelike ooreenkomste gemaak nie.”

De Villiers het Bilobrk gevra waarom hy dan maandeliks R35 000 aan Susan-Ann gee sedert haar man se dood – dit beloop al tussen R500 000 en R600 000.

“Jy moet dit kan insien dat dit lyk asof Herman Pretorius geld aan jou gegee het, wat jy nou uitdeel.”

Bilobrk het geantwoord hy verwag Susan-Ann sal die geld terugbetaal uit die polisgeld wat sy ná Pretorius se dood ontvang het. Hyself het nie ’n sak geld van Pretorius ontvang nie.

■ Pretorius het R2,2 miljard van beleggers ingevorder in ’n belegging-piramideskema.

Waar kry sy nou haar geld?
■ Susan-Ann Pretorius en haar regsverteenwoordiger, Etienne Naude, was nie gister by die sekwestrasie-ondervraging nie. Hulle het ook nie sekere dokumente en bankstate oorhandig soos wat die kurators van Susan-Ann se boedel van hulle geëis het nie.

■ Pierre du Toit van die prokureursfirma Mostert en Bosman het by navraag gesê Naude het laat weet hy oorweeg dit om ansoek te doen om ’n bevel dat hy sy bankstate moet oorhandig, te laat hersien.

■ Daar is polisgeld van R8 miljoen aan Susan-Ann uitbetaal ná haar man se dood. Die geld word in ’n trust bewaar. Sy kry maandeliks R35 000 van haar swaer om kop bo water te hou, en het nog nie van die rente of die R8 miljoen-kapitaal gebruik nie, luidens getuienis in haar sekwestrasie-ondervraging.

Leave a Reply/Los Kommentaar

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: