Archive | 11:51

Kurators soek steeds Pretorius-miljoene

14 Oct

Author: Marelize Barnard

Publications: Die Burger

Date Published : 14 Oktober 2014

Die kurators van wyle Herman Pretorius se maatskappye en trusts soek steeds na die geld wat in sy beleggingskema verdwyn het.

In die jongste verslag deur die kurators se prokureurs, Mostert en Bosman, oor die soektog na geld word genoem dat die meeste van die makelaars wat kommissie van Pretorius ontvang het, reeds ondervra is.

Vyf makelaars het ooreenkomste aangegaan met die likwidateurs en hulle het reeds R1,8 miljoen terugbetaal. ’n Verdere sowat R2,4 miljoen gaan deur dié makelaars terugbetaal word.

In die gevalle waar makelaars nie vrywillig hul kommissies terugbetaal nie, is aansoeke in die Wes-Kaapse hooggeregshof teen hulle ingedien.

Een van die makelaars, Michal Calitz, is besig met ’n aansoek om verlof tot appèl teen ’n uitspraak van regter Monde Samela in die Wes-Kaapse hooggeregshof. Dit is nadat Monde gelas het dat Calitz, sy beslote korporasie Impact Finansiële Konsultante, en die maatskappy EQ Prop R9,06 miljoen moet terugbetaal.

Dit sluit in kommissie, ’n lening deur ​Pretorius en ’n geskenk van R250 000 wat Calitz aan die twee gesekwestreerde trusts van Pretorius moet terugbetaal.

Die bevel is gemaak ná ’n aansoek deur die kurators van Pretorius se gesekwestreerde Relative Value Arbitrage Fund (RVAF) en sy Seca-trust.

Lesers se mening op Facebook oor Pretorius en hul geld:

Quintin Papenfus: “Ek weet van twee gesinne wat al hulle spaargeld verloor het. Dit natuurlik by Pretorius belê. Hulle kry bitter swaar vandag. Hy het soveel mense ingeloop . . . ek twyfel of hulle ooit hulle geld gaan terug kry.”

Soekie Bester: “Ons was slagoffer van hierdie skelm mense, het uit onkunde ons jarelange makelaar geglo. Nee, ek kon nog nie hierdie mense hul gulsige luukse lewe op ander se swaarverdiende lewensgeld vergewe nie!”

Annatjie Jonker: “Ja Herman Pretorius . . . dit is ’n psigopaat wat mense so in die oë kon kyk en vertel hoe hy risiko bestuur, hoe dinge beheer word, ens., welwetende dat die alles leuens is.”

Philip Meiring: “Julle moet rondkyk daar is nog baie van Herman Pretorius se eweknieë in die rondte, hulle skroom nie om jou geld te vat nie.”