Piramideskema se eise kan begin verjaar

12 Apr

Author: Nellie Brand-Jonker 

Publications: Die Burger

Date Published : 12 April 2015

Beleggers wat geld verloor het in Herman Preto­rius se piramideskema, moet opskud as hulle nog eise wil instel teen die makelaars wat hulle oorreed het om in die skema te belê. 

Pretorius is in Julie 2012 dood nadat hy eers sy sakevennoot Julian Williams van die Basileus-groep en toe homself doodgeskiet het.

Sedertdien het dit aan die lig gekom dat beleggers R2,2 miljard in Pretorius se Relative Value Arbitrage Fund (RVAF) belê het.

Die RVAF-fonds het al sedert die vroeë 2000’s geld van beleggers gekry. Opbrengste van sowat 20% per jaar is belowe en is jare lank gelewer.

Noluntu Bam, ombudsman van finansiëlediensteverskaffers, het pas nog twee uitsprake gelewer ten gunste van beleggers wat in die RVAF-skema belê het. Dit bring die getal positiewe uitsprake op 23 te staan.

Sowat R13 miljoen moet reeds deur finansiële adviseurs terugbetaal word aan van die beleggers.

Franscois van Gijsen, direkteur van regsdienste van Finlac, wys daarop dat beleggers wat nog eise by die Fais-ombudsman wil indien, dit gou moet doen. In Julie sal dit drie jaar wees sedert die skietdood van Pretorius en dan kan die eise verjaar.

Hy help nou vier mense wat destyds in die RVAF-fonds belê het, om eise in te dien.

Oor die moontlikheid dat die eise kan verjaar, het Bam by navraag gesê die proses vereis dat ’n klagte “die ombudsman nie later moet bereik nie as drie jaar vanaf die datum dat die finansiële diens gelewer is of nie later nie as drie jaar vanaf die datum dat die klaer redelikerwys bewus geraak het of behoort bewus te geraak het dat iets fout is”.

Sy wou nie kommentaar lewer op ’n vraag of dit so is dat eise binnekort kan verjaar nie en sê: “Ons kan nie ja of nee op die vraag antwoord nie omdat elke saak op eie meriete gehanteer moet word.”

Die ombudsman het nie die mag om die verjaring van eise uit te stel nie.

Van Gijsen glo egter dit gaan moeilik wees vir beleggers om te bewys hulle het nie geweet dat iets fout is nadat die nuus oor Pretorius se selfmoord in Julie 2012 bekend geword het nie.

“As jy nie teen Julie ’n eis ingedien het nie, gaan jy die geleentheid verbeur.”

Volgens Van Gijsen het hulle ná Pretorius se skietdood in 2012 aanvanklik baie navrae gekry van beleggers wat wou weet hoe om klagte by die Fais-ombudsman in te dien. Min beleggers het egter opgetree teen die bepaalde makelaars – vermoedelik omdat hulle wag om te kyk wat uit die likwidasieproses spruit.

Die makelaar Michal Johannes Calitz wat in Stellenberg in Kaapstad woonagtig is, het in dié stadium verreweg die meeste geld terugbetaal. Daar is al berig dat sy kliënte op sy advies meer as R86 miljoen in die skema belê het. Daar is reeds 17 uitsprake teen hom om altesame R10 miljoen aan beleggers terug te betaal.

Die eerste belegger wat verlede jaar teen Calitz ’n uitspraak gekry het, het Vrydag gesê hy is nog nie die geld terugbetaal nie omdat Calitz besig is om by die Raad op Finansiële Dienste (RFD) te appelleer teen die uitspraak.

Leave a Reply/Los Kommentaar

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: