Hof hoor van band tussen Cobus Kellermann, Herman Pretorius

10 May

Author: Nellie Brand-Jonker 

Publications: Netwerk24

Date Published : 10 Mei 2015

Die baasbrein agter Suid-Afrika se reuse-RVAF-piramideskema, wyle Herman Pretorius, word in hofstukke in Guernsey oor beleggingskemas genoem waarby die Kaapse batebestuurder Cobus Kellermann betrek word.

In die hofstukke daar word gesê van die hoogs riskante Suid-Afrikaanse beleggings wat Kellermann as ’n portefeuljebestuurder van ’n Guernsey-fonds gemaak het, was in maatskappye van Basileus Investments.

Wie was Basileus Investments?

Basileus Investments het in 2012 die nuus gehaal toe sy uitvoerende hoof, Julian Williams, in sy kantoor in die middestad van Kaapstad deur Preto­rius doodgeskiet is. Pretorius het homself daarna geskiet.

Volgens die hofstukkie is die JSE-genoteerde BK One gestig as ’n voertuig waardeur kapitaalinspuitings gemaak kon word om die Basileus-verwante maatskappye te ondersteun.

Paul Yabsley, die ondersoeker van Guernsey se finansiële owerheid, skryf in die hofstukke dat die Strategic-fonds in ’n stadium onder leiding van Kellermann direk en indirek deur fondse van Mauritius beleggings en lenings aan Basileus en sy verwante maatskappye gemaak het.

Die hofstukke verduidelik ook hoe die Strategic-fonds in wese R71 miljoen geleen het aan ’n maatskappy om ’n plaas in Helshoogte te ontwikkel en daarna weer R72 miljoen opgedok het om die plaas te koop – om dié lenings aan homself terug te betaal, volgens Yabsley.

Yabsley verwys na die skietvoorval op 26 Julie 2012 toe Williams deur Pretorius geskiet is, glo oor ’n dispuut oor geld wat Basileus se maatskappy AV Alloy aan hom moes betaal het.

Daar is berig dat dié geld deur Pretorius gebruik is om die beweerde piramideskema te finansier. Dit het later aan die lig gekom dat beleggers R2,2 miljard in Pretorius se Relative Value Arbitrage Fund (RVAF) belê het.

Belangebotsings?

Die hofstukke verwys ook na die hoogs omstrede transaksie wat Kellermann gedurende die week van die skietvoorval met BK One-aandele uitgevoer het om die aandele te verkoop. Kellermann was in daardie stadium die eienaar en portefeuljebestuurder van Ankh Analytic wat ’n Ankh-fonds bestuur het wat BK One-aandele besit het.

Ná die skietvoorval het BK One se aandeelprys skerp geval.

Volgens Yabsley is die BK One-aandele aan die Strategic-fonds verkoop teen die prys waarop dit op 25 Julie 2012 verhandel het.

Daar is geen bewyse tot die Guernsey finansiële kommissie se beskikking dat Kellermann in daardie sta­dium enige poging aangewend het om die skietvoorval van Pretorius en Williams en die negatiewe uitwerking wat dit waarskynlik sou hê op die BK ­One-aandele te openbaar nie, voer Yabsley aan.

“Alle aspekte van hierdie transaksie is hoogs twyfelagtig. Sonder twyfel is die Ankh-fondse se belange in BK One verkoop tot voordeel van beleggers in die Ankh-fondse en tot nadeel van die beleggers in die Strategic-fondse.

“Kellermann het groot belangebotsings gehad in alle dele van die transaksie met sowel Ankh as die Strategic-fondse.”

Yabsley sê Kellermann moes al in Junie 2012 bewus gewees het van die bewerings oor die bedrieglike beleggingskema van Pretorius.

Kellermann het onlangs aan Die Burger gesê die opdrag om die BK One-aandele te verkoop, is gegee ’n dag voordat Williams geskiet is. Volgens hom het dit verband gehou met die administrateur van Ankh se opdrag om sekuriteite te verkoop om likiditeit in die fonds te kry.

“Die vereffening van die aandele vind ’n dag of twee ná die transaksie plaas. Daar is niks ongerymd daaraan nie.”

Volgens hom is dit deur die Raad op Finansiële Dienste ondersoek, wat gelukkig was met die antwoorde.

 

Leave a Reply/Los Kommentaar

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: