Tag Archives: David Cosgrove

Dienstekommissie onthul: Ponzi-manne ‘het lang geskiedenis’

6 May

Author: Marelize Barnard

Publications: Netwerk24

Date Published : 6 Mei 2015

KAAPSTAD. – Wat het die Ponzi-bedrieër wyle Herman Pretorius, die man wat hy doodgeskiet het, Julian Williams, en die beleggingsbestuurder van Welgemoed, Jacobus Kellermann, met mekaar te doen?

’n “Lang geskiedenis” – as dit van die Finansiële Dienstekommissie van die Britse eiland Guernsey (GFSC) afhang.

Die skietery waarin Pretorius op 26 Julie 2012 eers vir Wil­liams en daarna homself geskiet het, is in die Guernsey-hooggeregshof vir die eerste keer in openbare hofdokumente aan internasionale aandeletransaksies gekoppel.

Kellermann, wat net soos Pretorius spogeiendom in Welgemoed aangeskaf het – en ook soos Pretorius ’n voorliefde vir vinnige sportmotors het – word by dié aandeletransaksies betrek. Kellermann en sy sakevennoot, David Cosgrove, is die afgelope twee maande al hoe meer in die nuus oor die beleggingsfondse waarby hulle in veral Mauritius en ook Guernsey betrokke is en ondersoeke na hul betrokkenheid by die bestuur van internasionale beleggingsfondse.

Die Pretorius-skietery:

Pretorius en Williams se skietdood was ’n dag nadat Kellermann betrokke geraak het by die verkoop van 1,4 miljoen aandele in die beleggingsmaatskappy BK One, wat gebruik is as beleggingsmedium om beleggers te kry om in maatskappye te belê wat aan die Basileus-groep behoort het.

Pretorius se beleggers het in een van die Basileus-maatskappye, AV Alloy, belê. In Pretorius se poging om sy Ponzi-skema geheim te hou, het hy R40 miljoen aan Williams geleen om aan sy beleggers uit te betaal en daardeur te probeer voorgee alles gaan goed.

Williams en Pretorius het hieroor gestry, wat klaarblyklik tot die skietvoorval gelei het.

Op dieselfde dag van die skietvoorval is 1,4 miljoen aandele in BK One verhandel. Dit is aandele wat aan Ankh behoort het, ’n beleggingsfonds wat deur Kellermann bestuur is.

Die verkoop van aandele:

Die Ankh-aandele in BK One is volgens die Guernsey-hofstukke deur nog ’n entiteit, Citygate (’n maatskappy in Mauritius wat deur Kellermann en Cosgrove bestuur is), aan nog ’n entiteit, Strategic Cells, verkoop. Die verkoopsprys was glo teen die waarde van die aandele soos vasgestel die dag voor die skietvoorval.

Intussen het die skietvoorval ’n “dramatiese” impak gehad op die waarde van die BK One-aandele. “Alle aspekte van die transaksie” kan volgens die hofstukke voor die Guernsey-hooggeregshof op hoogste vlak bevraag-teken word. Daar word aange-voer dat Kellermann in ’n groot-skaalse belangebotsing was omdat hy namens Ankh én Strategic Cells opgetree het.

Kellerman het volgens die bewerings van die Guernsey Finansiële Dienstekommissie nie die nodige inligting van die skietvoorval of die moontlike negatiewe nagevolge wat dit op die BK One- en Basileus-aandele sou kon hê aan die relevante betrokkenes verklaar nie.

Wat sê Kellermann?

Kellermann het op 25 Maart aan Die Burger gesê hy was as raadgewer betrokke by ’n maatskappy wat genoteerde BK One-aandele gekoop het. Die beleggingspan het dit verkoop na aanlei-­ding van ’n versoek van die besturende maatskappy om kontant in die portefeulje te verhoog.

Kellermann en Cosgrove het gister deur hul regsverteenwoordiger, Werksmans-regsfirma, by navraag oor die bewerings in die Guernsey-hofaansoek gesê hulle gaan vir eers nie verder kommentaar lewer nie.

Vrae oor beleggings: Herman Pretorius se spook loop weer

25 Mar

Author: Marelize Barnard

Publications: Die Burger

Date Published : 25 Maart 2015

NOG ‘N PONZI-SKEMA?

Kaapse sakeman praat vandag

Die Ponzi-bedrieër Herman Pretorius se spook loop weer in beleggingskringe.

En dié keer word daar weer ’n miljoenêr-beleggingsbestuurder van die ryk Kaapstadse voorstad Welgemoed genoem.

Die naam van Cobus Kellermann (39), ’n batebestuurder wat sakebande gehad het met Julian Williams wat in 2012 deur Preto­rius doodgeskiet is, word nou in nuusberigte genoem in verband met vrae wat ontstaan het oor beleggings van honderde miljoene rande.

Kellerman – met sakebelange so wyd as Somerset-Wes, Durban­ville, Mauritius en Switserland tot die eiland Guernsey in die Engelse Kanaal – woon twee strate van wyle Pretorius se ontwerpershuis wat verlede jaar vir R12,8 miljoen opgeveil is.

In 2012, toe ​Pretorius eers vir Williams, sy oudsakevennoot, en daarna homself in die middestad van Kaapstad doodgeskiet het, het dit bekend geword dat Kellerman se twee beleggingsfondse wat in Mauritius geregistreer was groot bedrae belê het in ’n maatskappy wat weer groot belê het in Basileus Capital, waarvan Williams die uitvoerende hoof was.

Dinsdag is in Sake berig Kellermann word verbind met ’n internasionale beleggingsgroep, Belvedere Management, wat uit Mauritius bedryf word en wie se kapi-taalgroeisyfers glo onder verden-king is.

Die Burger het Dinsdag Kellermann se huis in Welgemoed besoek om sy kommentaar te kry. ’n Man wat die interkom by ’n veiligheidshek geantwoord het, wou nie kommentaar lewer nie.

Hoewel in berigte verwys word na Kellermann se voorliefde vir vinnige motors, soos ’n rooi Ferrari, was daar geen sportmotors in die oprit nie, maar wel ’n Toyota Prado en ’n Isuzu-bakkie.

Met ’n tweede besoek aan die woning het ’n vrou, wat uit ’n wit VW Touareg geklim het, die veiligheidshekke haastig toegesluit. Sy het net voor sy die huis se deure toegemaak het, op ’n verslaggewer van Die Burger, Jason Felix, geskree: “Gaan weg, asseblief. Ons het geen kommentaar oor alles nie. Gaan net weg.”

Kellermann het intussen aan Johan Theron, prokureur van die regsfirma Werksmans, opdrag gegee om hom en sy sakevennoot, David Cosgrove, by te staan nadat “ongegronde en skadelike aanmerkings” deur ’n oorsese publikasie gemaak is “en nou ook deur plaaslike media herhaal word”.

Theron het gesê Kellermann en Cosgrove is bereid om vandag persoonlik vrae te beantwoord oor die aantygings, asook presies wat Kellermann se verbintenis met onder meer Basileus, Wil­liams en Pretorius was.