Tag Archives: Nico van Gijsen

Fais-wet: Wyer toesig nodig

7 Nov

Author: Ekonomiese Redaksie

Publications: Die Burger

Date Published : 7 November 2014

Verbruikersbeskerming is sterker as ooit, skryf Ian Middleton, besturende direkteur van Mast­head, maar daar is steeds gebreke.

Sedert die Wet op Finan­siële Advies- en Tussengangerdienste (Fais) in 2004 van krag geword het, het reguleerders – veral die Raad op Finansiële Dienste (RFD) – verskeie kodes en beginsels ingestel om te verseker dat elke finansiële-adviesonderneming kliënte se belange op die hart dra.

Dit sluit in die kode oor die billike behandeling van kliënte.

Voor Fais het Suid-Afrika ’n hoogs ongereguleerde finansiëledienste-omgewing gehad. Enigeen kon homself ’n finansiële raadgewer noem. Die hoofdoelwit met Fais was om mense wat finansiële raad betref, te beskerm en die professionaliteit en integriteit van die finansiëledienstebedryf te verhoog.

Die Fais-wet het standaarde vir bevoegdheid, etiek en werkwyse gestel om mense teen onbetroubare en beginsellose raadgewers te beskerm.

Raadgewers en die sleutelindividue moet gelisensieer word. Kliënte kan dus by die RFD nagaan of iemand geakkrediteer is en wat hulle by magte is om te verkoop. Adviseurs mag slegs binne hul kundigheidsveld raad gee of dienste lewer.

Raadgewers is ook onderworpe aan jaarlikse oudits en moet eksamens slaag.

Kliënte het nou ook ’n maklike, goedkoop en vinnige manier om dispute met hul raadgewer te besleg deur die kantoor van die Fais-ombudsman.

Dit bevoordeel kliënte, maar beklemtoon ook die belangrikheid van raadgewers. Deur kwalifikasies vir die bedryf amptelik te maak, het dit die beroepstatus van raadgewers verhoog.

Voldoening aan die Fais-wet verg regstreekse en onregstreekse koste – tyd en mensehulpbronne.

Dit het ’n groot las geskep vir klein raadgewende firmas en raadgewers wat alleen sake doen. Die aantal onafhanklike finansiële raadgewers het gevolglik afgeneem. Sommige het weens die reguleringshekkies uitgeval, ander het werk gaan soek by groter organisasies.

Die veranderinge was nie so erg soos in Brittanje nie waar soortgelyke regulasies jare voor Fais ingestel is.

Wat die raad van adviseurs betref, is ons in die algemeen positief.

Dit lyk dalk asof daar baie klagtes oor finansiële raadgewers is, maar dit moet in konteks gesien word.

Sowat 30 van die Fais-ombudsman se beslissings haal jaarliks nuusopskrifte, maar niks word gesê oor die miljoene kliënte wat voordeel getrek het uit die raad wat hulle oor lang- of korttermynpolisse of beleggings ontvang het nie.

Die doeltreffendheid van verbruikersbeskerming word egter verwater weens ’n reguleringsgaping.

Hoewel die RFD alle bedrywighede wat die onder die Fais-wet val, reguleer, beheer en monitor, lê baie beleggingskemas wat waarde vir verbruikers vernietig het en die opskrifte gehaal het buite die trefwydte van die RFD in ’n ongereguleerde ruimte.

Ons meen dat daar op ’n breër vlak toesig gehou moet word oor of die beloftes wat aan kliënte gemaak word, billik en bereikbaar is.

Wanneer ongereguleerde produkte aan kliënte bemark word in openbare advertensies in druk, op radio en op televisie, moet dié produkte en verskaffers gesien word as dat hulle die gereguleerde wêreld betree het en hulle moet as sodanig behandel word.

Met so ’n ingewikkelde doolhof van keuses moet kliënte seker maak dat hulle raad by ’n geakkrediteerde, gelisensieerde, professionele raadgewer kry.

As ’n kliënt so iemand raadpleeg en sy of haar raad volg, sal hulle ’n veiliger finansiële toekoms binnegaan. Niks klop daardie gemoedsrus nie.

■ Masthead help finansiëledienstemaatskappye aan wetgewing voldoen.

 

‘Wees ingelig, dan sal jy veiliger wees’

Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en gereelde rubriekskrywer vir Sake, gee sy mening oor die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste:

Die Fais-wet het myns insiens goeie bedoelinge, maar gaan in praktyk nie naastenby ver genoeg met sy doelstellings – die beskerming van die regte van mense – nie.

Mense is in die algemeen finansieel ongeletterd of minstens oningelig en naïef, veral oor langtermyn- finansiële beplanning. Die produkte is kompleks en daar is ernstige etiese probleme wat wetgewing nie oplos nie.

Die bedryf is te veel ingestel op verkope ten koste van gepaste finansiële advies. Die Fais-wet fokus ooglopend sterk op “advies”, maar is beperk in sy definisie: “Advies” is eers advies as ’n produk te sprake kom.

Dan is daar die malligheid in die beleggingswêreld. Dink maar aan die “skemas” wat verspot groot opbrengste belowe en dan bankrot speel.

Ek meen kliënte moet sterker begin staan. Hulle kan begin deur:

■ Net professioneel opgeleide finansiële beplanners te gebruik;

■ Elke brokkie advies skriftelik verduidelik te kry;

■ Nie poliskontrakte te onderteken voordat hulle dit deeglik deurgelees en seker gemaak het hulle verstaan dit nie;

■ Nie wolhaarstories oor beleggingsopbrengste te glo nie – die sakeblaaie skryf immers gereeld daaroor; en

■ Dit sal goed wees as sakeblaaie meer op persoonlike finansiële advies fokus en as mense dié blaaie lees, want dit is hoe jy ingelig raak oor jou eie finansies.

CFP vies oor rubriek

24 Aug

Author: Flippie Becker

Publications: Sake Rapport

Date Published : 23 August 2014

My kwalifikasie as gesertifiseerde finansiële beplanner (CFP) bevestig enersyds ’n minimum vlak van professionele kundigheid, maar word ook ondersteun deur ’n etiese kode waarvolgens die kliënt se belange eerste gestel word.

Ek is daarvan oortuig dat kliënte professionele, onafhanklike advies benodig om ingeligte finansiële besluite te neem. My eie finansiële welvaart is afhanklik van beleggers wat vertroue het in my dienste en produkte – daarom het ek ook ’n byltjie te slyp met die slim jakkalse agter eiendomsindikasies, valuta-spekulasie, piramideskemas en dies meer.

Sondagoggend 17 Augustus bel ’n kliënt my – hoogs ontstoke oor Nico van Gijsen se artikel “wat almal probeer swartsmeer om homself witter te laat lyk” (sy woorde).

Ek word gekonfronteer met: “Hoe kan julle toelaat dat julle en jul professie so beswadder word?”
Voorheen het ek al met Nico verskil oor die tegniese inhoud van sy artikels. Die eerste keer het hy darem ’n regstelling in die volgende Sake-Rapport geplaas. Dit is nie vir my die moeite werd om tyd te bestee om elkeen van sy artikels “na te sien” nie.

Wanneer my eie kliënt egter keelvol raak, móét ek optree.

Van Gijsen kritiseer finansiële beplanners met:

– ’n “Glimlag op die regte tyd”. Wat is fout met gemaklike verhoudinge met kliënte?

– “Oormatige kerkaktiwiteit”: Impliseer dit dat ’n beleggingsadviseur wat sy geloofsoortuigings uitleef noodwendig oneties en/of skelm is?

– “Breedsprakige uitlatings oor beleggings”: Hoe kan ek advies gee oor ’n vakgebied waaroor ek met my mond vol tande sit?

– “Kleurvolle grafieke oor hemelhoë opbrengste”: Die era van telegramme is verby – beteken ’n effe meer moderne benadering met die gebruik van tegnologie dat ek ’n onetiese of skelm adviseur is?

Die verantwoordelike adviseur gebruik juis tegnologie om prestasies in perspektief te stel en nie om wanvoorstellings te doen nie.

Enige redelike leser kan verwag dat hierdie “rubriek” praktiese raad sal gee wat help om sinvolle, ingeligte besluite te kan neem.

Die eintlike raad in hierdie verband (hoe jy jou finansiële beplanner kies) is so eenvoudig soos:
Jou betroubare konsultant of makelaar wat al die jare jou versekeringsportefeulje behartig, is nie noodwendig ’n kundige in beleggings nie. Daar is egter vele kundige beleggingsadviseurs wat die Wet op Finansiële Advies en Tussengangerdienste (Fais) in letter én gees nakom.

Kyk na bekende instansies wat jou belegging administreer, byvoorbeeld Aims, Allan Gray, Glacier van Sanlam, Investec, Momentum, Old Mutual, Stanlib, ensovoorts. Hierdie administrasieplatforms tree op as bewaarder van die onderliggende bates en is derhalwe in die eerste plek aanspreeklik vir
wanadministrasie in eie geledere. Daarby word die fondsbestuurder ook streng gekeur.

Moet nooit enige geld in die “adviseur” se bankrekening, sy firma se bankrekening, enige vreemde administrasieplatform of onbekende instansie se bankrekening inbetaal nie.

Evalueer die voorgestelde strategie en bepaal of jy so jou langtermyndoelwitte kan bereik.

Volg verwysings op van kliënte wat langer as drie jaar gelede dié stappe gevolg het.
Die inhoud van die rubriek is van weinig waarde om enige potensiële belegger te help om ingeligte besluite te neem.

Ooglopend is die doel slegs om sensasie te wek en dan doodluiters Van Gijsen se kontakbesonderhede onderaan te publiseer om sy eie persoonlike belange via Finlac te bevorder.

Dit getuig nie net van swak joernalistiek nie, maar is ook uiters onprofessioneel.

Nico sê: Ek hou ’n spieël op
Nico van Gijsen antwoord: Ek probeer nie kollegas “swartsmeer” nie.

Honderde kollegas en makelaars landwyd gebruik my rubrieke as ondersteuningsmateriaal wanneer hulle met kliënte konsulteer.

Ek kry gereeld briewe van dank en aanmoediging, veral van gerespekteerde CFP-praktisyns!

Ek kan glo dat die uitwys van wanpraktyke in die finansiële-dienstebedryf plek-plek seermaak. Dit is so bedoel. Ek grond dít wat ek sê op die klagtes van honderde lesers oor meer as 15 jaar se finansiële-rubriekskrywery.

Die waarheid ontsien niemand nie. Ek vra ook nie verskoning daarvoor nie.

Ek hou ’n spieël op. As jy nie hou van wat jy sien nie, moenie die spieël slegsê nie.

Hanlie Stadler, waarnemende nuusredakteur van SakeRapport, skryf:
Ons verwelkom hierdie debat met ope arms, want dit beteken ons lesers en mense in die bedryf kyk krities na dít wat ons skryf.

Wat interessant is, is dat Nico van Gijsen en Flippie Becker eintlik oor die basiese dinge saamstem: Daar is vrot appels in die finansiële-dienste- bedryf wat nié in beleggers se belang optree nie. Becker gee puik raad oor hoe jy die vrot appels uitken – ons hoop lesers neem dit ter harte.

Die konteks van Van Gijsen se rubriek was Michal Calitz, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner (CFP), maar een van die vrot appels in die bedryf. Hy het as agent van Herman Pretorius opgetree.
Die punt is dat ’n kwalifikasie mense nie vrywaar nie.

Net soos daar skelm dokters, prokureurs en MBA-gekwalifiseerdes is, is daar skelm CFP’s. ’n Kwalifikasie is ongelukkig nié ’n waarborg van etiese gedrag nie.

Wat die aanklag betref dat ons Van Gijsen bevoordeel deur sy besonderhede onderaan te plaas: Ons plaas in beginsel ons rubriekskrywers se besonderhede onderaan sodat lesers kan vasstel of hulle is wie hulle sê hulle is.

Hy gee ’n enorme hoeveelheid gratis raad aan lesers. Hy verdien ook geen kommissie op beleggingsprodukte wat hy aanbeveel nie (Finlac het ’n kostestruktuur waardeur hy vir sy tyd vergoed word en nie ’n kommissiestruktuur nie), en daarom is ons gemaklik daarmee om hom as rubriekskrywer te gebruik.

Die debat oor die spesifieke rubriek is nou afgesluit, maar lesers bly welkom om my te kontak oor Sake-Rapport se inhoud. My e-pos-adres is hanlie.stadler@media24.com.

Hoe ken jy ’n geldhiëna uit?

17 Aug

Author: Nico van Gijsen

Publications: Rapport

Date Published : 17 August 2014

Met oëoopmaaktyd Maandagoggend tref twee berigte my: die African Bank-drama en die Herman Pretorius-debakel.
Die eerste is die gevolg van swak, persoonlik meen ek roekelose, sakebesluite; die ander ’n onderduimse geldmaakslenter.
Die twee het heelwat gemeen. Albei is nalatig of roekeloos met kliënte se geld. En albei kan lei tot finansiële verlies of selfs permanente ellende.
Hoe beskerm jy jou neseier teen swak besluite by die bank? Of, in die geval van Pretorius-agtige beleggingsfoefies, teen geldhiënas wat meer in hul eie sak belang stel as in jou welvaart?
Die makelaar oor wie die Pretorius-berig eintlik gaan, Michal Calitz van Impact Financial Solutions, het glo miljoene rande se kommissie verdien uit sy vriend Pretorius se slenterskema.
Calitz, ’n professionele finansiële beplanner met die gerekende CFP-titel, is deur die ombudsman vir finansiële adviseurs en tussengangerdienste gelas om enkele van sy talle slagofferkliënte hul geld terug te betaal.
Ek en baie ander professionele finansiële beplanners vertrou die Instituut vir Finansiële Beplanning (FPI) sal ook optree om sy lede en die vertroue van hul kliën­te in die instituut te beskerm.
Ek maak dié punt, want ek kry gereeld die vraag: Wie kan ek vertrou met my geld? In die lig van die geval Pretorius/Calitz kán ek die vraag nie onomwonde antwoord nie. Dit smeer af aan almal.
Maar kom ons probeer. Eers banke. Wie onthou vir Saambou? Die feit is, banke kán in die moeilikheid kom.
Vir jou as belegger is die gevaarlig die veel hoër rente-opbrengste wat aangebied word. As groot banke soos Absa, First National Bank (FNB), Standard Bank of Nedbank rente-opbrengste van so 5% adverteer, hoe kry ’n klein, niksseggende ou bankie dit reg om dubbeld soveel rente aan beleggers te bied?
Hy leen jóú geld aan mense wat reeds ’n slegte skuldnaam het. Hoërisikoleners. Die troosprys vir dié risiko wat jy loop, is die hoër rente-opbrengs – totdat alles in duie stort.
En laat ek waarsku: Daar is nóg rente-trane en ellende op pad. Hou maar dop.
Die gevaarligte met makelaars, of sogenaamde beleggingsraadgewers, is moeiliker om raak te sien: ’n glimlag op die regte tyd, oormatige kerk-aktiwiteit, breedsprakige uitlatings oor beleggings en kleurvolle grafieke oor hemelhoë opbrengste het ek al by dié geldhiënas teëgekom, alles om naïewe en goedgelowige – en ja, dikwels gierige – beleggers van hul spaargeldjies te ontneem.
Die een vraag wat van jou ’n maklike beleggingsprooi maak, is: “Watter opbrengs kan jy vir my kry?” Dis soos bloed vir ’n hiëna.
Maak liewer eers seker dat die persoon aan wie jy jou sake wil toevertrou, werklik as jou agent optree.
Vra die logiese vrae: Weet hy of sy wie ek is, wat my omstandighede is, wat my behoeftes is? Indien nie, hoe kan hy of sy aanbevelings doen? Daar móét mos ’n ander agenda wees.
As jy iemand aanstel, laat hy of sy die raad skriftelik gee, met ’n rede vir elke aanbeveling en hoe dit in watter behoefte van jou voorsien. Dit is hoe jy jouself kan beskerm.
Moenie blokkie-en-kruisie-advies aanvaar nie. Dit is nikswerd snert.
Nico van Gijsen, CFP is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa.

Lesers kan navrae aan hom stuur by Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com. Twiet: @Nicovangijsen