Tag Archives: Pierre du Toit

Pretorius se vrou moet uit spoghuis trek

8 May

Author: Marelize Barnard

Publications: Die Burger

Date Published : 08 Mei 2014

KAAPSTAD. – Susan-Ann Pretorius, weduwee van die swendelaar Herman Pretorius, sal met net basiese meubels en toerusting, soos haar bed en ’n yskas, uit haar miljoenêrshuis in Welgemoed moet trek.

Haar laaste poging in die regsproses om ’n bevel van finale sekwestrasie teen haar te betwis – haar aansoek om verlof tot appèl in die appèlhof in Bloemfontein – is van die hand gewys.

Met elke moontlike regsproses wat nou uitgeput is, sal ’n kennisgewing binne enkele dae aan Pretorius beteken word met die datum wanneer sy uit die huis moet wees.

Die aansoek om haar finaal te sekwestreer is verlede jaar in die Wes-Kaapse hooggeregshof deur die kurators van Pretorius se Relative Value Arbitrage Fund (RVAF) Trust en die Seca Trust ingedien.

Die kurators het aangevoer sy het gebaat by meer as R17 miljoen se betalings uit die rekenings van dié trusts.

Sy is op 21 Oktober finaal gesekwestreer.

Pretorius het hierna elke moontlike regsproses gevolg om die finale bevel, wat deur waarnemende regter Wilhelm van Staden gemaak is, teen te staan en sy kon sedertdien in die spoghuis aanbly.

Pierre du Toit van Mostert en Bosman, regsverteenwoordiger van die kurators, het gister bevestig dat ’n hofbevel op 22 April in die appèlhof gemaak is en dat ­Pretorius se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys is.

Nou moet sy trek.

“Al die meubels moet in die huis agtergelaat word. Susan-Ann sal basiese huisware, soos haar bed en ’n yskas, mag saamneem,” het Du Toit gesê.

Hierna sal die kurators besluit of die spoghuis en meubels deur ’n eiendomsagent bemark kan word en of dit op ’n openbare veiling verkoop sal word.

Kurators sal Pretorius ook verder ondervra in ’n poging om nog bates te probeer opspoor.

Sy sal die geleentheid kry om presies te verduidelik wat op haar bankstate aangaan, en waarvoor bepaalde betalings gemaak is waaroor die kurators moontlike vrae kan hê.

 

Lees Artikel in Die Burger

Vrou gedwing om inligting te openbaar

24 Jan

Author: Marelize Barnard

Publications:  Die Burger

Date Publiched: 24 Januarie 2014

KAAPSTAD. – Regstappe gaan teen Susan-Ann Pretorius, weduwee van die piramide-swendelaar Herman Pretorius, gedoen word om haar “te dwing” om inligting oor haar persoonlike rykdom te verskaf.

Dié stap gaan volg nadat Susan-Ann tot nou toe “geweier het” om met die kurators van Pretorius se Relative Value Arbi­trage Fund (RVAF) Trust en die Seca Trust saam te werk.

Pierre du Toit van Mostert en Bosman, regsverteenwoordiger van die kurators, het gister by navraag bevestig dat die volgende stap is om Susan-Ann “met regstappe te dwing om saam te werk”.

Intussen is Susan-Ann se aansoek om verlof tot appèl teen ’n vroeëre uitspraak waarin sy finaal gesekwestreer is van die hand gewys.

’n Aansoek om Susan-Ann te sekwestreer, is verlede jaar deur die trustees van Pretorius se RVAF- en Seca Trusts ingedien. Die trustees het aangevoer dat sy gebaat het by meer as R17 miljoen se betalings uit die rekenings van dié trusts.

Susan-Ann was deurgaans die geregistreerde eienaar van ’n huis in Welgemoed waarvoor daar binne twee jaar R13,3 miljoen aan bouers en binneversierders betaal is.

Sy het ’n aansoek om verlof tot appèl ingedien teen die uitspraak van waarnemende regter Wilhelm van Staden wat die finale sekwestrasiebevel toegestaan het.

Dit het beteken dat Susan-Ann se spoghuis nie opgeveil kon word tot die regsproses van haar aansoek om verlof tot appèl afgehandel is nie.

Die kurators het intussen steeds die reg gehad om Susan-Ann te ondervra.

Van Staden het gister uiteengesit waarom hy Susan-Ann se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys het.

Hy het daarop gewys dat Susan-Ann aangevoer het dat die bevel van voorlopige sekwestrasie nié aan haar werknemers of die Suid-Afrikaanse Inkomstediens bedien is nie. Rekords wys egter duidelik dat dit wel gedoen is.

Oor ’n tweede bewering deur Susan-Ann dat die hof gefouteer het deur nié ’n polis van R8 miljoen in ag te neem as deel van haar boedel nie, het Van Staden gesê sy kon versoek het om dié kwessie in ’n beëdigde verklaring te behandel (eerder as om dit in haar aansoek om verlof tot appèl te gebruik).

Dié geld is uitbetaal aan ’n familietrust van die Pretorius-familie, bekend as die Penta Trust, en kon volgens ’n beëdigde verklaring van haar prokureur nie bygereken word as ’n bate by Susan-Ann Pretorius se gesekwestreerde boedel nie.

Adv. John Suttner SC, vir Susan-Ann, het Saterdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangevoer dat sy nié insolvent is nie en dat sy die begunstigde is van die R8 miljoen-polis.

Sy het aangevoer dat sy, saam met ander bates soos haar huis in Welgemoed, genoegsame bates het om die eis van R17 miljoen teen haar te betaal.

Adv. Chris Eloff SC, bygestaan deur adv. Almero de Villiers, het namens die kurators opgetree.

Lees Artikel in Die Burger

Polis mag nie skuld delg van weduwee

23 Oct

Author: Marelize Barnard

Publications:  Die Burger

Date Publiched: 23 Oktober 2013

Welgemoed

Welgemoed

KAAPSTAD. – ’n Lewenspolis van R8 miljoen wat aan ’n familietrust van wyle Herman Pretorius uitbetaal is, kan nié deur kurators gebruik word om sy weduwee, Susan-Ann, se skuld te delg nie.

Dié geld is uitbetaal aan ’n familietrust van die Pretorius-familie, bekend as die Penta Trust, en kan nie bygereken word as ’n bate by Susan-Ann Pretorius se gesekwestreerde boedel nie.

Die kurators van Herman Pretorius se Relative Value Arbitrage Fund (RVAF) Trust en die Seca Trust se aansoek in die Wes-Kaapse hooggeregshof om Susan-Ann Pretorius te sekwestreer, het wel geslaag, maar hulle kan nie aan die R8 miljoen raak nie.

Waarnemende regter Wilhelm van Staden, wat Maandag ’n aansoek om die finale sekwestrasie van Susan-Ann Pretorius in die Wes-Kaapse hooggeregshof toegestaan het, het gister die redes vir sy bevel gegee en gesê haar skuld beloop meer as R17 miljoen.

Die waarde van haar huis in Van de Graaffstraat, Welgemoed, die enigste merkbare bate in haar boedel, is op R6,75 miljoen geskat.

Van Staden het in sy bevel uitgewys dat Susan-Ann Pretorius nie die begunstigde van die lewenspolis is nie.

Haar regsverteenwoordiger, Etienne Naude, het dit in ’n beëdigde verklaring bevestig.

Pierre du Toit van Mostert en Bosman, regsverteenwoordiger van die kurators, het gesê selfs al doen Susan-Ann Pretorius nou aansoek om teen die sekwestrasiebevel te appelleer, word ’n kurator steeds aangestel om haar boedel te ondersoek.

 

Lees Artikel in Die Burger

Makelaars oor Pretorius bekyk

29 Jan

Author: Marelize Barnard

Publications:  Die Burger

Date Publiched: 29 January 2013

KAAPSTAD. – Makelaars wat beleggers oortuig het om hul geld in wyle Herman Pretorius se beleggingskemas te “belê”, gaan deeglik ondersoek word.

Rynette Pieters, een van die kurators van Pretorius se Relative Value Arbitrage Fund Trust (RVAF), het gister bevestig die kurators is besig om die “makelaarskwessie” te ondersoek.

Pieters wou nie in dié stadium meer inligting verskaf nie.

Pierre du Toit van Mostert & Bosman Prokureurs, wat die kurators met hul ondersoek help, het gesê die meeste beleggers het hul absolute vertroue …….

Continue reading this article